Karring Kaappunter is the truly original Kaappunter al die pad van Bez valley in Johannesburg wat nou woonagtig is minder as 'n klipgooi van Kaappunt. Ons kon nog nie die praatjies dat Karring lugballonne smous aan die Sjinese regering erken of ontken nie, maar moenie jou asem vir te lank ophou nie, dis nie noodwendig goed vir jou gesondheid nie.
Karring is 'n kranige kitaarspeler net 'n musiekateljee Sharp Street Studios in Glen Cairn wat van die wêreld se mooiste musiek opneem, reg hier uit, so te sê, die punt van Kaappunt.
Meneer Volume op JohannesKerkorrel.com
Elke goeie groep het 'n diep denker nodig, en danksy Markus Oralrus het Die Kaappunters ook ene. Die filosofie agter Oralrus is eenvoudig dog indrukwekkend, modern dog antiek. Dit het nou verbande met Taoisme maar is aanpasbaar met meeste van die hedendaagse gelowe Christendom, Alkohol en Microsoft. Dit behels bloot die dag (en die nag) aangryp soos in Dead Poet's Society deur nie veel meer van elke oomblik te maak as wat dit reeds nie. En wat is dit? Elke oomblik is 'n geleentheid aan ons gegun om te lewe. En hoe sal jy wil lewe? Wel dis die vraag, is dit nie? As jy weet waarvan jy hou, hoekom nie jouself daarop toespits nie.
Wees bewus van die lewe en die weerstand wat dit mag bied en beweeg so saam met die heelal dat jy in harmonie met alles is. En dit is wat Markus honderd en vierentwintig persent regkry: harmonie! Danksy hierdie dieper insig spog Die Kaappunters met baskitaarklanke wat vermaak en vervoer na wêrelde van harmonieuze genot. Maak nie saak hoe wild Wian Anders se lirieke raak, of wulps Vuilsak van Staden daai drom slat nie, met Markus op die bas kry jou oor Oralrus
Afrikaanse rapper – Mitchell’s Plain/Kaapse Vlakte
Eerste offisiële musiekvideo van Kroeskop vol Geraas:
Koos Kombuis oor Churchil: “My gunsteling-rap-ster is ’n nuwe kalant van Mitchells Plain met die naam Churchil Naudé (met een “l” om hom van Winston Churchill te onderskei). Hierdie ou kan nog groot gaan in ons taal se musiek; groter as Jack Parow, so groot soos Tafelberg.”
Churchil het onlangs met Anton Goosen saamgewerk. ‘n Kollaborasie wat op kykNet se TV program met Coenie de Villiers te sien was en nou op die web is by:
Van sy vroeër werk het veral aandag getrek op MK (Musiek kanaal op sateliet TV):
Kroeskop vol geraas is ‘n uitmuntende debuut-album, met 13 snitte, opgeneem deur Riku Lätti van Wasgoedlyn Produksies. Met die subtitel “Veldmuis/Stadsmuis” is Churchil se plan om te fokus op 2 definitief verskillende style: Veldmuis = Akoesties/melodies/unplugged (6 snitte); Stadsmuis = Elektries/Harder Hiphop/Urban (6 Snitte) en dan is daar ‘n reggae rap “Onse Vaders” wat mooi tussen in val.
Churchil se woorde word as uitstekende poëtiese tekste beskou, wat nie wegskram van belangrike sosiale kwelpunte nie, dog is dit gemik op ‘n alledaagse gehoor en hoogs verstaanbaar en glad nie snobisties nie, bv.:
“Verdriet is ‘n guava juice bottel en genkem/ verdriet is us en them/ of dis my stem/ wat jy gaan hoor tot julle my tong uitsny met ‘n lem/ steel die ink in my pen/ maar die liefde gaan wen/ tot iemand my tyres pap steek/ en ek my wind uitblaas/ maar ou melk raak kaas/ die boy raak ‘n baas/ hulle sê hulle is moeg vir my gekerm want ek maak net geraas/ maar daai bliksems kan gaan doppies blaas/ want ‘n wind is soos ‘n kind hy raak ‘n vreeslike storm/ om my te stereotipeer is so normaal dis die norm/ is jy dom/ of is jou blerrie kop altyd kaal/ praat ek ‘n vreemde taal of laat ek julle verder in verdoemenis daal/ want verdriet is wat jy weet/ maar te bang is om te sê/ jy wil so graag net ‘n klein bietjie happiness hê/ maar verdriet dit infiltreer tot in die kooi wat jy lê.”
“Churchil se lirieke raak `n verskeidenheid onderwerpe aan. Hy rap oor iets so werklik kwellend soos die kultuur van huishoudelike geweld in ons land in sy treffer “Meisie”: “meisie, jy wil dit glo as hy sê ‘I love you still’ / meisie, lyk my jy like dit om te hop as hy brul / meisie, hy se hy’s lief vir jou dan sluk jy die pil / meisie, gooi weg die sleutel girl en kap toe die grill” tot iets so groot soos die mens se eie eksistentialisme in sy lied “As” wat hy saam met Frazer Barry van Tribal Echo doen: “maak oop jou mind en raak onstlae van jou las / want as ons dood gaan is ons maar net as.” En alhoewel hy ernstige sosiale probleme aan die strot gryp, is sy lewensuitkyk nietemin positief en sê hy aan ‘n gekwelde jeug: Daar is iets jy aan jou eie omstandighede kan doen.
Wasgoedlyn Produksies het onlangs ‘n Afrikaanse Musiekdokumentêre TV-reeks geskiet, waarin Churchil sterk na vore tree met onderhoude en optredes wat hom met gemak aan ‘n breë publiek gaan bekend stel.
Churchil beplan om Afrikaans verder te vat as wat dit tot dusver kon gaan om dit ‘cool’ te maak, om ook stem te gee aan veral mense van die Kaapse vlakte. “Ek wil jong laaties wys dat ons nie die Amerikaners hoef na te boots nie want ons het ons eie stories om te vertel.”
Churchil Naude, nederige vader en skrynwerker van Mitchell’s Plain, gaan nog groot wees, soos Koos Kombuis gesê het. “Dis net ‘n kwessie van tyd”, om Churchil se eie woorde te gebruik.
Die Media oor Churchil Naude:
Henry Cloete op Litnet: Churchil op Litnet
Koos Kombuis op Netwerk24: Churchil deur die oë van Koos Kombuis
Churchil se site: churchilnaude.co.za
'n Woelige wriemelende siel agter die tromme wat seker maak die ritme van die Kaappunters wys altyd ware Suid. Want dis waaruit alles geankerd is.
Hy loop ook rond in die groter Stellenbosch en Bolandse gebiede onder die skuilnaam Jean "Tunes" Marais. Hy best en bestuur 'n ateljee genaamd Tunes Studio in Stellenbosch waar jy kan gaan oefen en selfs professionele musiekopnames kan gaan maak. Hoor hoe lekker speel hy hier:
Jean tromme en perkussie vir 'n hele klomp mense soos SNAFU:
Tunes studio se webtuiste: tunesstudio.co.za
Wian Anders kon die hoof van Old Mutual gewees het, maar soos sy naam sê het dinge Anders uitgedraai. Vandag maak hy musiek saam met die Kaappunters en skryf lirieke wat Koos Kombuis se ou tannies aan gin en tonics laat stik:
Die Vlaglied
Dis tyd dat jou kinders wat trou is maar vra
wat beteken die vlag van ou suid Afrika
Hulle weet dis die merk van die Nasionalis
van die blank über alles, die wit supremis
van geslag tot geslag issie mense verag
hulle land ingepag en koppe verkrag
'n Nazi se kenmerk op Afrika grond
van 'n volk wat nog hunker na gister se stront
Die blou van die blank in oranje grond
Dis die kleed met klad van die skaam van Suid-Afrika
Ons lê nou die wapens neer
Kom lê nou die wapens neer
Bettie Blatjang is kleurvol en geheimsinnig, daarom sal mens nooit weet wat sy alles gedoen het nie. Maar wat ons wel weet is dat sy ‘n akteur is. Sy loop in die alternatiewe werklikheid, ook onder mense bekend as die regte lewe, rond onder haar naam Jackie Lätti.
Die filmaker Jans Rautenbach het haar natuurlike vermoëns om onmiddellik in ‘n karakter se vel te klim, geprys. Sy is ook ‘n sanger. Haar mees onlangse publieke uitreiking as die stem agter Churchil Naude se bruin bliksem sal enige denkende brein verbyster met haar dramaties vertolking ala Shirley Bassey. Derdens is sy ‘n skrywer/digter. Dan is sy ‘n stemkunstenaar en radio-aanbieder soos gehoor op Wasgoedlyn volume 1 asook Jaco Botha se Lulu Lerulu kinder-audioboek wat sy voorlees en talle karakters vertolk. Daarna is ook die matriarg, kostuumkonseltant/garderobemeester van die Wasgoedlyn. Sy’s die een wat seker maak almal word na omgesien en lyk kwaai.
Jackie Lätti het onlangs Anne van Green Gables by Naledi uitgegee. Dis haar Afrikaanse vertaling van die klassieke roman wat al meer as 30 miljoen kopië wêreldwyd verkoop het. Dit is beskikbaar van Naledi se website (kliek hier om vir jou te bestel teen slegs R250). Hulle sal dit by jou huis aflewer.